06
Jul
08

SA tweede op die lys van moordlande

05/07/2008 20:14  – (SA)

Dawie van Heerden

http://www.news24.com/Rapport/Nuus/0,,752-795_2352653,00.html

Johannesburg

Suid-Afrika is die naasgrootste moordmekka ter wêreld.

Dit is ook die land met die derde meeste verkragtings en is in die vyfde plek wat die aantal rooftogte betref.

Net in Colombia word meer moorde as in Suid-Afrika gepleeg. Dáár word 61 uit elke 100 000 mense jaarliks vermoor. In Suid-Afrika was daar in die jaar van April verlede jaar tot Maart vanjaar 18 487 moorde (38 uit elke 100 000 mense), blyk uit die misdaadstatistieke vir April 2007 tot Maart 2008 wat die polisie die afgelope week bekend gemaak het.

Jamaika met 32 moorde uit elke 100 000 mense is derde.

Die minste moorde word jaarliks in Katar gepleeg. Net een mens uit elke 100 000 in dié land word vermoor.

Volgens onlangse statistieke op Nationmaster se webtuiste vergelyk Suid-Afrika se dalende geweldmisdaadsyfer steeds sleg met dié van ander lande.

In die Seychelle word 78 uit elke 100 000 vroue jaarliks verkrag. Australië is ’n kortkop agter met 77 en volgens die jongste statistieke word 75 uit elke 100 000 vroue in Suid-Afrika verkragtingslagoffers.

Volgens Nationmaster se statistieke het Suid-Afrika eers die meeste verkragtings gehad met 119 slagoffers uit elke 100 000. Die minste verkragtings is in Saoedi-Arabië, 3 uit elke 100 000.

Net in Spanje, Chili, Costa Rica en Estland is daar meer rooftogte as in Suid-Afrika. In Spanje word 1 232 uit elke 100 000 mense jaarliks beroof. Chili is tweede met 692, Costa Rica derde met 479, Estland vierde met 356 en volgens die jongste statistieke is Suid-Afrika vyfde met 247.

Katar, met 4 rooftogte uit elke 100 000, en Jemen, met 8, is laaste op die lys van die lande waar die meeste rooftogte uitgevoer word.

Selfs lande met heelwat meer inwoners het die laaste klompie jare aansienlik laer misdaadsyfers as die pas aangekondigde Suid-Afrikaanse syfers.

In Duitsland, met sy 82,5 miljoen inwoners, was daar in 2006 byvoorbeeld net 2 468 moorde, 8 118 verkragtings en 53 696 rooftogte.

In Brittanje, met ’n bevolking van 58 789 194, was daar in 2007 net 160 moorde, 37 000 rooftogte en 1 919 verkragtings.

In Amerika, met sy bevolking van 304 507 000, was daar in 2006 volgens statistieke van die FBI 17 034 moorde – 1 453 minder as in Suid-Afrika, met ’n bevolking van net meer as 40 miljoen.

In 2006 was daar volgens die FBI 447 403 rooftogte en 92 455 verkragtings in Amerika vergeleke met Suid-Afrika se pas aangekondigde 118 312 rooftogte en 36 190 verkragtings vir die tydperk tussen April 2007 en Maart 2008.

Met die “mees onlangse inligting tot sy beskikking” sê Nationmaster ook onder meer Zimbabwe is per capita (per 100 000 mense) 16de op die lys van lande waar die meeste moorde gepleeg word. Pole is 20ste en Australië 43ste.

Pole is tiende op die lys van lande waar die meeste rooftogte plaasvind. Australië is 15de en Zimbabwe 17de.

Australië is, volgens Nationmaster se webtuiste, derde op die lys van lande waar die meeste vroue verkrag word. Zimbabwe is sewende en Pole 29ste.

Advertisements

0 Responses to “SA tweede op die lys van moordlande”



  1. Leave a Comment

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: