26
Jun
08

Malema verwoord essensie van ANC-denke

Source: http://praag.co.za/index.php?option=com_content&task=view&id=2041&Itemid=403
Geskryf deur Dan Roodt
Sondag, 22 Junie 2008

Dis nogal amusant hoe vandag se Sunday Times op die uitspraak van Julius Malema, die ANC-jeugleier, reageer. Malema word afgemaak as die “mamparra van die week” en oor die algemeen word sy uitspraak ten gunste van geweld nie ernstig opgeneem nie.

Nie te lank gelede nie is Robert Mugabe se dreigemente insgelyks as retoriek beskou wat mens nie “letterlik” moes opneem nie. Ook in die tyd van Peter Mokaba wat lustig voor sy ondersteuners gesing het, “Kill a Boer, kill a farmer”, is ons verseker dat dit bloot ‘n vryheidsliedjie en ‘n metafoor was.

Intussen word boere (kleinletter) en Boere (hoofletter) steeds by die duisende elke jaar vermoor.

Sedert die ANC aan bewind gekom het, word die datum 16 Junie jaarliks gebruik om anti-wit sentiment in die land aan te blaas. Die feit dat meer swartes verlede maand in die geweld teen vreemdelinge as op 16 Junie 1976 gesterf het, word deur niemand as van belang beskou nie. Daar sal nooit ‘n spesiale vakansiedag vir die slagoffers van geweld teen buitelanders wees nie.

Dat Malema dus 16 Junie gekies het om geweld te predik, is nie toevallig nie. Net gister het hy sy standpunt herbevestig en gesinspeel op die tradisie van gewelddadige revolusie in die ANC.

Die ANC, soos Mugabe se Zanu-PF, die ou Bolsjewiste in Rusland, Mao Tsetoeng en sy Rooi Wagte, asook baie ander, is ‘n organisasie wat die geweldsetos as’t ware met sy moedersmelk ingekry het. Die gematigde gesig wat die ANC aan die sakesektor en aan buitelandse diplomate toon, is slegs ‘n masker. Daaragter skuil ‘n meedoënlose, revolusionêre monster wat nie sal rus voordat Suid-Afrika geheel en al “getransformeer” (lees: revolusionêr verander) is nie.

Dat blankes en veral die Afrikaner glad nie deel uitmaak van die ANC se toekomsplanne nie, is geen geheim nie. Malema het vandeesweek bloot bevestig dat pogings deur die howe om Zuma van die presidentskap te weerhou en om grondonteiening en die res van die ANC se radikale program te kortwiek, uiteindelik met geweld beantwoord sal word.

Dit wil ongelukkig voorkom asof die Afrikaner – en veral sy vorige geslag leiers wat in hul kinderlike naïwiteit gedink het dat ons die verval en onstabiliteit van post-koloniale Afrika à la Zimbabwe gespaar gaan bly – steeds in die waan verkeer dat die swart nasionaliste van die ANC ons goedgesind is.

Ons mense is ook geneig om die gerusstellings van die buiteland, spesifiek Brittanje, vir soetkoek op te eet. Immers was dit die Britte wat FW de Klerk en Roelf Meyer oortuig het om onvoorwaardelik aan die ANC oor te gee, pleks van beter te onderhandel vir ‘n bedeling waarin ons nog oor ‘n mate van mag en invloed, asook waarborge vir ons voortbestaan, beskik het.

Die Britte het insgelyks in 1980 vir Robert Mugabe as ‘n briljante swart leier opgehemel en ‘n rooskleurige toekoms vir die nuwe Zimbabwe voorspel. Tans poog Brittanje om sy eie maaksel in daardie land ongedaan te maak deur ‘n baie middelmatige vakbondleier by name Morgan Tsvangirai teen die revolusionêre Mugabe te steun. Brittanje meng ook openlik in dié land se sake in, net soos wat dit in die laat tagtiger- en vroeë negengtigerjare in Suid-Afrika se sake ingemeng het ten einde die revolusionêre party, die ANC, aan bewind te stel.

Hoewel Zuma berekend oor die afgelope jaar gerusstellende uitsprake oor die Afrikaner en sy plek in die land gemaak het, kan dieselfde nie van sy kollegas en veral sy ondersteuners soos Mamela en die ANC-jeugliga gesê word nie.

Die radikales is stadig maar seker besig om die oorhand in die ANC te verkry en die onlangse uitbarstings teen vreemdelinge het reeds aangetoon watter kruitvat Suid-Afrika vandag, 12 jaar na die einde van die gewraakte apartheid, verteenwoordig.

Revolusionêre retoriek word gewoonlik gevolg deur revolusionêre optrede. Dit is die les van post-koloniale Afrika waarvan nie ‘n enkele land ‘n gewelddadige bewindsverandering met gepaardgaande wanorde en selfs burgeroorlog vrygespring het nie.

Daar is diegene wat beweer dat die Afrikaner vandag, onder die invloed van Sewendelaan en Naspersdagblaaie met hul PK-propaganda, sy eie geskiedenis vergeet het. Ons mense sal ‘n nog groter fout begaan deur die Afrikageskiedenis van die afgelope dekade of vier te ignoreer.

Advertisements

0 Responses to “Malema verwoord essensie van ANC-denke”



  1. Leave a Comment

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: