30
May
08

Xenofobie en walgvideo’s – die oplossing

S

Geskryf deur Gustav Venter

Source of picture: http://www.opednews.com/maxwrite/uploaded/sa_3-20080523-552.jpg

Source of article: http://praag.co.za/index.php?option=com_content&task=view&id=1869&Itemid=403
Vrydag, 30 Mei 2008
Die jaar is nog jonk en reeds het die liberale Afrikaanse pers ons taalskatkis met twee begrippe verryk. Vroeg in die jaar het hulle vir ons die neologisme “walgvideo” geskenk en deesdae is dit die uitdrukking “xenofobiese aanvalle” wat voor ons oë gehou word.

Gegewe die spanning onder die pleisterwerk van die Nuwe Suid-Afrika is dit nie toevallig dat die twee begrippe dieselfde vraagstuk behandel nie. Van die eerste tot die laaste gaan dit oor die mislukking van die opgehemelde multikulturele staatsbestel van die Nuwe Suid-Afrika. Nie dat die hoofstroom Afrikaanse pers dit só verstaan het nie. Hulle het vergeet die monument was op sand gebou want hulle was te besig om die barste in die mure uit te kryt.

Die twee begrippe het ‘n werkskoors onder die griffelaars ontketen. Liters ink is opgeskryf en die luggolwe is geskroei met allerheilige verontwaardiging. Tog, na dit alles kon hulle nog nie die eenvoudige verband tussen dié twee gebeurtenisse insien nie; dat dit maar alles gaan oor die eenvoudigste van alle sosiale reëlings: Mense verkies dít wat eie aan hulle is en is regtens agterdogtig teenoor dít wat vreemd aan hulle kultuur is.

Hierdie basiese, ingebore drang na die eie is te sien in die Reitz-koshuisinwoners se traagheid om in een huishoudelike ruimte ingeklits te word met mense wat ‘n ander taal as hulle praat, ‘n ander klem op persoonlike omgang het, wat ander musiek luister, ander sport verkies en ‘n ander beskouing van sulke basiese sosiale elemente soos privaatheid en naaktheid het.

Hierdie selfde ingebore, natuurlike drang het township-inwoners genoop om die buitelanders om hulle te verdryf.

In albei gevalle het die liberale Afrikaanse media dieselfde tam, tam, tam ou voorskrif aangebied: Daar moet oor nasionale boeg ‘n gesindheidsverandering kom. Mense moet leer om anders te dink. Mense moet diep teue van daardie maatskaplike liefdeseliksir, integrasie, drink. Blanke redaksionele touleiers, waarvan nie een in ‘n township woon nie, waarvan nie een ‘n kind in ‘n oorwegende swart skool het nie, wat nie een met ‘n anderskleurige getroud is nie, het hosannas oor diversiteit, die liberalis se heilige graal, afgesteek.

Maar, soos enige Australiese rugbyskeidsregter, was hulle allermins konsekwent in hulle uitsprake. Hulle bolsjewistiese partyresitasie aangaande die vreemdelinghaat was dat dit ontstellend was, o ja, maar die townshippers se griewe verdien darem ook aandag.

Die Reitz-videomakers het nooit hierdie voordeel van die twyfel ontvang nie. Die liberalis durf nie die moontlikheid oorweeg dat Afrikanerstudente geldige besware kan hê nie. Sy hele filosofie sal in vlamme uitbars soos ‘n Pakistani-spazawinkel in Alexandra. Die liberalis is so besig om te preek hoe ons na mekaar moet luister dat hy nie tyd het om na die Reitz-inwoners te luister nie.

As ‘n mens die gemiddelde temperatuur van al die berigte oor dié twee gebeurtenisse neem, is daar geen twyfel nie: Die hoofstroom Afrikaanse media is op hulle volksverguisende beste baie meer ontstel oor die “walgvideo” as oor die “xenofobiese aanvalle.”

Die konsensus onder hulle is dat dit nie mooi is om hulpelose mense in die nag aan te val, te verwilder, te martel en te vermoor nie. Maar dit kon veel erger gewees het. Die ontevrede Alexandraïete kon iemand omgepraat het om in ‘n satiriese video te verskyn en om saam met hulle gek te skeer. En dan – o die onmenslikheid – dan kon hulle hom na die tyd met ‘n bottel whisky vergoed het. In die Nuwe Suid-Afrika se gruwelkonsert is Alexandra se danse macabre getroef deur Reitz se langarmsokkie.

Enkele dae gelede is daar besluit om Reitz-kamerwonings op die Kovsie-kampus te sluit. “Ons kon nie anders nie,” het die lamsakkige universiteitsbestuur gesê. Na wat berig word, sal die blanke inwoners van Reitz by tradisioneel swart koshuise ingedeel word.

Natuurlik het Naspers se susterskoerante die tamboeryne in die liberalistiese Hare Krishna-koordans gespeel. “Dit lyk na die korrekte…(besluit)” het die Beeld preuts gehyg en toe gerapsodieer oor die instituut vir diversiteit wat na bewering in Reitz se plek opgerig sal word.

Die geveinsdheid van die liberale Afrikaner ken geen perke nie.

Want moet wat vir Reitz geld nie ook van toepassing wees op Alexandra nie?

Maar wag, miskien is dit nie so ‘n slegte idee nie. Miskien het hulle iets beet. Miskien is die oplossing van die “xenofobiese aanvalle”-vraagstuk voor die hand liggend. Maak Alexandra eenvoudig toe en stuur die Suid-Afrikaanse inwoners om in ‘n plakkerskamp op die buitewyke van Harare te gaan bly! Briljant! En in die plek van Alexandra bou ons ‘n instituut vir diversiteit. Miskien selfs iets ambisieus; iets soos ‘n Disney-styltemapark. En die naam daarvan is vanselfsprekend. Welkom by Mugabeworld. In plaas van ‘n Hawaii-tipe graskransie word die besoeker met ‘n Firestone-buiteband om die nek ontvang.

Dit was ‘n brandende buiteband en ‘n vreemdeling se dood in ‘n vlammende halssnoerhel wat die sentrale indruk van die aanvalle op buitelanders geword het.

Die hoofstroommedia het in afgryse uitgebars. Maar wanneer hulle stil word, hoor mens nog steeds hoe hulle hulleself troos. Hy is die ergste darem gespaar:

Iemand kon flou Oros in sy kos gegooi het en ‘n video gemaak het terwyl hy dit eet.

Advertisements

0 Responses to “Xenofobie en walgvideo’s – die oplossing”



  1. Leave a Comment

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: