Archive for June 13th, 2008

13
Jun
08

Boewe sny 2 vingers af

Source: http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2339831,00.html

Jun 12 2008 09:24:45:853PM – (SA)

Virginia Keppler

’n Sakeman van Olifants-fontein naby Midrand se een oor en twee vingers is Maandagoggend tydens ’n “opsetlik gewraakte” gewapende aanval afgesny.

Hy en sy vrou is ook herhaaldelik met ’n mes gesteek en met ’n hamer en koevoet geslaan.

Mnr. George Rossouw (53) van Koedoestraat in Clayville se linkeroor en wysvinger en pinkie aan sy linkerhand is tydens die aanval met ’n mes afgesny.

Hy is herhaaldelik oral oor sy lyf met ’n hamer en koevoet geslaan en is 12 keer met ’n mes gesteek. Sy vrou, Bernie (50), is ook met ’n mes in die gesig en rug gesteek. Van haar ribbes is gebreek en haar longe is stukkend gesteek.

Die egpaar, eienaars van ’n spysenieringsonderneming, het in ’n plas bloed gelê toe hul sekuriteitsmaatskappy, die polisie, ambulansdiens en hul twee dogters by die toneel opgedaag het.

Hulle is in ’n baie ernstige toestand in die waakeenheid van die Unitas-hospitaal in Pretoria. Mnr. Rossouw se oor is intussen tydens ’n noodoperasie weer aangeheg.

Die aanval het Maandag omstreeks 04:00 plaasgevind.

Me. Carmen Rossouw (31), hul een dogter, het gesê die rowers het ’n hek met ’n onbekende voorwerp stukkend gesny om toegang tot die erf te kry.

“Die elektriese heining was aangeskakel, so hulle kon nie oor die heining kom nie. Die rowers het toe die veiligheidshek by die kombuisdeur oopgebreek en by die kombuisdeur ingebreek om in die huis te kom,” het Rossouw gesê.

Volgens haar het die alarm afgegaan toe die rowers by die huis ingegaan het. “So ver ons weet, was daar net twee aanvallers. Hulle was gewapen met ’n koevoet, hamer en mes.

“Hulle het my pa in die kombuis ingewag en hom oorrompel toe hy in die gang af stap. My ma was agter my pa en het gesien toe hulle my pa oorval. Sy het gehardloop om hom te probeer help.

“Dit was ’n gewraakte aanval. Dit was opsetlik. Hulle het net gesteek, geslaan en gesny.”

Me. Rossouw het gesê ADT-sekuriteit het gereageer op die alarm. Toe ADT by die huis aankom, het hulle een persoon by die hek gesien. Die aanvallers het toe onmiddellik gevlug.

Rossouw het gesê volgens haar ma het die aanvallers herhaaldelik gevra vir vuurwapens. Hulle het uiteindelik gevlug sonder om iets te steel. “My ma en pa was teen daardie tyd plat op die vloer en kon niks doen nie. Hulle het probeer om kamer toe te kruip om by ’n foon uit te kom.

“My ma sê soos wat sy asem ingeasem het, het die lug by haar rug uitgegaan. Sy het egter daarin geslaag om haar foon in die kamer te kry en het ons gebel.

“My ma sê dit is met God se krag dat sy by die telefoon kon uitkom en bel.”

Volgens haar het die polisie, sekuriteitsdiens en die ambulans gou opgedaag en hulle uitstekend van hul taak gekwyt.

Rossouw het gesê haar ouers kan nog nie self praat nie, maar sal graag hul storie self wil vertel sodra hulle beter voel.

Sy het gesê daar is ’n kettinggebed-aksie oor die wêreld aan die gang vir haar ouers. “Ons is dankbaar dat soveel mense vir ons bid.

“Ek en my suster, Candy (30), moet net sterk bly vir ons ouers. Ons is bevoorreg dat ons verloofdes ons bystaan en ondersteun,” het Rossouw gesê.

Konst. Stella Madumo, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie ondersoek ’n klag van huisroof.

Niemand is nog in verband met die aanval aangekeer nie.

13
Jun
08

Moenie snags in Jhb land, maan VN

Source: http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2339875,00.html
Jun 12 2008 09:47:41:223PM – (SA)

Erika Gibson

Die Verenigde Nasies (VN) het sy personeel in Suid-Afrika gewaarsku om nie hul selfone op straat te gebruik nie en liefs nie snags by die O.R. Tambo-lughawe te land nie.

Dít is in die VN se jongste reiswaarskuwing oor Suid-Afrika.

Suid-Afrikaners wat vir die VN werk, het gister gesê hulle skaam hulle vir hul land wat nou met dié waarskuwing tot op dieselfde vlak as konflikgeteisterde lande soos Soedan “gedaal” het.

Dié waarskuwing plaas wêreldwyd gebiede in sekere risikokategorieë met “geen fase” wat geld as daar geen bedreiging is nie en “fase vyf” as die stadium waar VN-werkers uit ’n land verwyder word.

Fase een, waar werkers gemaan word om versigtig te wees, geld nou die hele Suid-Afrika.

Fase twee, waar hulle nie in bepaalde gebiede mag beweeg nie, geld in die meeste gebiede wat onlangs onder xenofobiese geweld deurgeloop het: die Johannesburgse middestad, Boksburg, Hillbrow, Mamelodi, Mooikloof, Durban, die Kaapse Vlakte, Brits, Sasolburg, Knysna en Jeffreysbaai.

“Daar is xenofobiese aanvalle op buitelanders in informele nedersettings. Alle personeel moet dus wegbly uit dié gebiede en werksverwante ritte met die VN-kantore in Suid-Afrika koördineer. Veiligheidsvoorligtings by dié kantore is verpligtend vir almal.

“Gewelddadige misdaad op straat met vuurwapens raak alle VN-personeel in Suid-Afrika primêr.

“Besoekers is meer weerloos teen dié bedreiging omdat hulle bewustheid en voorbereidings tekortskiet.

“Onlangse voorvalle toon dat Gauteng (Johannesburg en Pretoria) die ergste (deur dié bedreiging) geraak word en ’n merkbare toename in gewapende rooftogte ervaar.

“In die meeste gevalle word slagoffers in hul opritte of by hotelingange met vuurwapens besteel wanneer hulle van die lughawe ry,” lui die waarskuwing.

“Tref vooraf vervoerreëlings en vermy dit om snags op Johannesburg se lughawe te arriveer. Moenie buitelandse geld by die lughawe omruil nie en vermy dit sover moontlik om enige persoonlike besonderhede uit te gee.

“Wanneer VN-werknemers in ’n motor of taxi reis, moet alle besittings in die kattebak of op die vloer buite sig geplaas word.”

Dié waarskuwings word maandeliks uitgereik en aangepas.